Langkloof

Joubertina Omtrent Ons Dit-en-dat Landbou Eetplek Besighede Natuur Geestelik

Gebede

Gebed

Bekende Verse

Die Bybel op jou Selfoon

Bybel soek

Bybel Die Bybel op die net.

Dun Plekke

Dun Plekke

Ek is dikwels op my knieë gedryf deur die oorweldigende sekerheid dat ek nêrens elders het om heen te gaan nie. My eie wysheid, en die van die mense rondom my, het onvoldoende gelyk vir die dag. (Abraham Lincoln)

                      Winter


Nou lê die aarde nagtelang en week

in die donker stil genade van die reën,

en skemer huise en takke daeliks bleek

deur die wit mistigheid en suising heen.


Dis alles ryk en rustig van die swaar

geheime wasdom wat sy paaie vind

deur warm aarde na elke skeut en blaar,

en vêr en naby alles duister bind

in vog en vrugbaarheid en groot verlange;


tot ons ’n helder middag skielik sien

die gras blink,

en die jong graan teen die hange,

en weet dat alle rus die lewe dien:

hoe kon ek dink dat somer ryker is

as hierdie groei se stil geheimenis?


(N P van Wyk Louw)

             VROEGHERFS

Die jaar word ryp in goue akker blare
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot self die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan
dat die takke van die lang popliere al
teen elke ligte môre witter staan.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
Of enkel jeug en vér was van die pyn;

Laat ryp word Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

(N P van Wyk Louw)


               Al die veld is vrolik (Lente)

Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;

al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.

Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;

hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mier.


Selfs die vissies spartel teen die Papkuil;

in die groot ou eikeboom droom ‘n oupa-uil.

Oral in Karooland is ‘n ruik versprei:

boegoeblom en appelkoos–kan jy beter kry?


Bind vir my tesame katjiepiering wit,

bobbejaantjies blou en bont, rose in gelid,

varings van die klippe, oral, ai só mooi,

rooi kalkoentjies uit die vlei–blomme uitgestrooi.


Vrolik is die wêreld, vrolik rant en vlei!

Elke koggelmannetjie het sy maat gekry.

Elke gons’rig’ goggatjie is getroud of vry:

vrolik is die wêreld hier, vrolik veld en vlei!


Nou gaan die kinders draai, nou gaan hul speel!

Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!

Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–

dis tog so prettig! Wie dans met my?

Al in die rondte, vrolik en bly!

(C Louis Leipoldt)

                      Die Beste (Somer)

        

        Geil lusern in die laagste landjie,

           Geil groen blare en blomme blou,

        Alwyn rooi op die voorste randjie,

           Rooi soos bloed teen die rotse grou;

        Somer en son en safier daarbowe,

           Ruik van die keurbos rondgesprei,

        Kort klein skad’wees oor die klowe;

           Somer en son en safier vir my!

        Wonder van kleure uitgesprei—

        Wat is daar meer wat die dood berowe?

        Somer en son en safier vir my!


        Hoog oor die water skommel die vinkies

           Vol van die vreug van die somerdag:

        Bly die gekwetter van klein tinktinkies,

           Blyer die son wat goudgeel lag.

        Algar wat lewe, algar tevrede,

           Hoog op die heuwel en laag op die vlei;

        So was dit gister en so is dit hede,

           Somer en son en safier vir my!

        Heer, Wat die hemel oor my sprei,

        Dit is my eerste en laaste bede:

        Somer en son en safier vir my!


        Roem van mense,  rykdomme, pragte—

           Alles vergaan soos die mis op die vlei;

        Sterre wat skiet in dikdonker nagte,

           Het langer lewe dan roem kan kry.

        Boetie, as ons nou ’n keus moet wae

           Hier op die wêreld, wat vra jy?

        Roemryke lewe en lengte van dae?

           Somer en son en safier vir my!

        Boetie, as jy nou jou keus kan kry,

        Wat is die wens wat jou hart sal wae?

        Somer en son en safier vir my!


(soos dit verskyn het in die tydskrif Die Brandwag van 15 Januarie 1915) (C Louis Leipoldt 1880 - 1947)

                       Oktobermaand


Dit is die maand Oktober! Die mooiste, mooiste maand!

Dan is die dag so helder, so groen is elke aand,

so blou en sonder wolke die hemel heerlik bo,

so blomtuin vol van kleure die asvaal ou Karoo,

so blomtuin vol van kleure die asvaal ou Karoo.


Dit is die maand Oktober! Die varkblom is in bloei;

oor al die seekoeigate is Papkuil gegroei;

die koppies, kort gelede nog as ‘n klip so kaal,

het nou vir welkomsgroetnis hul mooiste voor gehaal;

het nou vir welkomsgroetnis hul mooiste voor gehaal.


Dit is die maand Oktober! Die akkerboom is groen;

die bloekoms langs die paaie is almal nuut geboen;

en orals in die tuin rond ruik jy sering en roos,

jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos,

jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos.


Dit is die maand Oktober! Ek dink die mense vier

vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!

Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag?

Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?

Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?


Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei?

Wat skeel dit as ons later weer donker dae kry?

Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,

met elke dag so helder, so pragtig elke aand!

Met elke dag so helder, so pragtig elke aand!


(C Louis Leipoldt 1880 - 1947)

Nagreën

Die reën skuifel deur die straat,
verby my venster, mensverlaat …
Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos ’n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
in die lamplig, teer en droef papawerrooi.

(N P van Wyk Louw

11 Junie 1906 - 18 Junie 1970)

Sproeireën


My nooi is in ‘n nartjie,

my ouma in kaneel,

daar’s iemand .. iemand in anys,

daar’s ‘n vrou in elke geur!


As ek ‘n stukkie nartjieskil

tussen my vingers buig of knak,

breek uit die klein sproeireën

wat geurend om my hand uitsak,

die boorde weer van Swartfoloos

en met die nartjies om my heen

weet ek hoe dat ‘n vrou kan troos.


O my nooi is in ‘n nartjie,

my ouma in kaneel,

daar’s iemand … iemand in anys,

daar’s ‘n vrou in elke geur!


D.J. Opperman (1917-1985)

                   Vincent van Gogh

Jy het as ’n miskende

heilige vergeefs geveg teen die ellende

en die onreg in die krotte van die myn,

in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn

en skriklike stryd van God

leer ken, wat mens en boom verknot

in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe

in aanbidding van die son kon verwe,

boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,

die kantelende landskap in die snelle ligte

geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek

tot branding van die skone kon verwek,

toe is Sy hartstog eers in jou volbring

soos groen sipresse tot ’n vlam verwring.

D.J. Opperman (1917-1985)


                Dank

Ek bring aan jou die eerste vrugte van die land

met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:

‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand

gedra as nuwe huldes van seisoen en tyd;

jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei

waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel

sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my

en val die geil reëns van die berge sonder doel

   D.J. Opperman (1917-1985)


                   Man met flits

In die klein wit kol

van my wete stol


bruin en skerp 'n klip

soos 'n bok wat skrik,


staan, vinnig weghol

uit die klein wit kol.


Aan 'n takkie hang

twee ogies wat bang


uit die klein wit skyn

van my flits verdwyn.


Oor waters wat glip

soek ek klip na klip


maar 'n duister land

bedreig my alkant.

D.J. Opperman (1917-1985)

Die rusies van my vader

het my laat wegkruip

laat haat en vrees

en laat besluit

as ek eendag trou

sal ek anders wees

teenoor my vrou.

D.J. Opperman (1917-1985) (Nooit gepubliseer)


D.J. Opperman het sy hele lewe lank 'n vrees vir armoede in hom

rondgedra. Hy het selfs toe hy reeds 'n baie welgestelde man was

geld baie versigtig hanteer, sê Kannemeyer. Tog het hy later onder

die besef gekom van die tydelikheid van eiendomsbesit.

Dit het Boet, soos hy onder sy gesinslede bekend was, hewig

ontstel as sy pa rondval en van werk verander. Soms moes die

Oppermans driemaal 'n dag pap eet en die feit dat hy as ywerige

leerling in standerd ses sy skoolopleiding vir twee jaar moes

onderbreek, het 'n bitterheid in hom laat ontstaan. Hy verwoord

hierdie bitterheid in die gedigtereeks ''Stelsel'' uit sy

debuutbundel, Heilige beeste (1945).


                Kleinboer

Vroeg Saterag as die koekoekhaan kraai,

sing ek bo-op my karretjie gelaai

met wortels en koolkoppe; maar swyg

met bitter haat as ek saans huistoe draai.

Oor D.J. Opperman (1917-1985)

(http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1991/09/26/8/5.html

Argief Beeld)

                       Boer

Hy stap van soggens vroeg

agter vier osse

en die ploeg,

om aarde, son en wind

en reën in mielies

te verbind;

in ryke saad waaruit

fabriek en stad en

nasie spruit.

D.J. Opperman (1917-1985)

As Opperman later, nadat hy die graad BA aan die Universiteit

van Natal behaal het, in dieselfde stad skoolhou, kyk hy op 'n dag by

sy klaskamer uit en sien hoe 'n klomp bandiete by 'n klipgroef besig

is om die berg kleiner te kerf:

              Sarkofaag

Vas teen die stad rys bruingekerf

met 'n groen kuifie bo, die halwe berg

waar honderde bandiete

agter skoorstene van fabrieke

jare al met koekepan en pik

hul dieper ingrawe in skuinstes klip;

en om hul uit klein vensters van die stad

kyk klerke dag vir dag met huiwering na die gat.


Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is 'n

sarkofaag 'n doodskis van klip met beeldhouwerk op inskripsies; 'n

grafsteen in antieke vorm. In hierdie gedig lewer Opperman bewys van

sy taalvermoë wanneer hy byvoorbeeld praat van ''skuinstes klip'' en

nie van ''klipskuinstes'' nie.

(http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1991/09/26/8/5.html Argief Beeld)

Opperman se voorlaaste bundel, Edms. Bpk., dui op die beperktheid van die lewe en die beperktheid van eiendomsbesit.

Hierdie motief word treffend in die titel verbeeld en visueel gemaak, maar ook in die letterlike betekenis daarvan.

In die openingsgedig kom die leser duidelik onder die indruk dat eiendom nie net die eiendom is van die een wat daarvoor betaal het nie . . .

Na 1970 het 'n lewensatheid by Opperman ingetree. Die vrees dat hy binnekort as ''oud-digter'' bestempel sal word, het 'n nog sterker houvas op hom begin kry die besef dat ons eiendomsbesit op aarde beperk is, het hom laat terugtrek na 'n vertroude domein, dié van drank. Hy het geweldige hoeveelhede rooi wyn tot soveel as ses bottels per dag verorber. Dit het gelei tot aanvalle van neerslagtigheid en onproduktiwiteit wat hom nog meer laat drink het 'n bose kringloop het dus ontstaan.

Kannemeyer sê: ''Die afname in sy skeppingskrag het hom al meer laat drink, want vir iemand vir wie die kunstenaarskap so sentraal was, en wie se lewe in so 'n mate op die drif gerig was, moes die vrees vir 'n vroeë poëtiese dood iets verskrikliks gewees het.''

Opperman is in Maart 1976 met lewerversaking in die hospitaal opgeneem. Niemand het gedink hy sou herstel nie, want hy was sewe maande lank in 'n koma. Marie het egter geglo hy sou leef.

Sewe maande later is hy ontslaan. ''Na sy ernstige siekte,'' verklaar Kannemeyer, ''het Opperman 'n nuwe leeftog gehad wat vir

almal naby hom 'n vreugde was om te aanskou.'' Hy moes egter van vooraf leer praat, lees en loop. Hiermee het hy sy derde en jongste dogter, Diederi (na Diederik vernoem, want hy sou nooit 'n seun hê nie) hom gretig gehelp.

''Terwyl hy in die jare onmiddellik voor sy siekte 'n lusteloosheid, depressiwiteit en passiwiteit beleef het, was hy na die herstel baie meer gemotiveerd, energiek en geesdriftig oor alles wat in sy ervaringsveld gekom het. Hy het dit as 'n buitengewone

voorreg beskou om weer te lewe.''

Opperman het self ná sy herstel gesê: ''As jy deurgegaan het wat ek deurgegaan het, gaan daar remme in jou los . . . ''

'n Volksboek, soos hy dit self op die titelblad noem, verskyn na sy siekte in 1979 en word allerweë as 'n hoogtepunt in sy ouevre

beskou.

In Komas uit 'n bamboesstok vertel hy volgens Lina Spies, digter en hoogleraar aan die Universiteit van Stellenbosch, uit 'n

agterna-perspektief hoe hy evolusionêr tot die lewe teruggekeer het.

Die evolusiemotief word dwarsdeur hierdie bundel aangetref. Dit is asof die digter deur middel van hierdie bundel terugkyk oor sy

lewe heen. Hy sien homself vanaf geboorte tot hede, en hy sien ook 'n stuk voltooide digterskap.

In hierdie bundel word tot op 'n groot hoogte met die self die spot gedryf. Opperman se eksperimentele met die tipografiese word hier tot 'n hoogtepunt gevoer.

Op Sondag, 22 September 1985, is Opperman na 'n tweede beroerte dood.

(http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1991/09/26/8/5.html Argief Beeld)

(Kliek hier vir volle artikel in Beeld)

Stad in die mis..


Met gespanne spier

loop ek deur die mis

want om my sluip ’n dier

onder wit duisternis;

ek hoor hom knor en in oop mote

waggel sy pilare-pote

en sy kantelende rug metaal;

op hoeke van die strate blink

sy oë bloedbelope,

en met sy hap sluit staal op staal.


D.J. Opperman (1917-1985)(Kliek hier vir verdere inligting)

(Kliek hier vir oorspronklike .PDF)

Die Dans van die Reen

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam;

en sy lag saggies.

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans

en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind;

en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

"Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!"

En haar krale skud,

en haar koperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!


(Eugène Nielen Marais - 9 Januarie 1871 – 29 Maart 1936)

SKOPPENSBOER

'n Druppel gal is in die soetste wyn;

'n traan is op elk' vrolik' snaar,

in elke lag 'n sug van pyn,

in elke roos 'n dowwe blaar.

Die een wat deur die nag

ons pret beloer

en laaste lag,

is Skoppensboer.


II


Gewis en seker is die woord:

die skatte wat ons opvergaar,

ondanks die sterkste slot en koord

word net vir mot en roes bewaar.

Net pagters ons

van stof en dons

om oor te voer

aan Skoppensboer.


III


Die heerlikheid van vlees en bloed;

die hare wat die sonlig vang

en weergee in 'n goue gloed;

die dagbreek op elk' sagte wang

en oë vol van sterreprag

is weerloos teen sy groter mag.

Alreeds begint die rimpel sny;

oor alles hou die wurm wag

en stof en as is al wat bly:

Want swart en droef,

die hoogste troef

oor ál wat roer,

is Skoppensboer.


IV


Gewis is alles net 'n grap!

Ons speel in die komedie mee

geblinddoek met 'n lanferlap

wat selfs die son 'n skadu gee.

Wat treur ons tog?

Viool en fluit maak nog geluid,

en lank die nag wat voorlê nog.

Al kan ons nooit volmaaktheid raak,

nog blink die oog en gloei die huid

wat heel die winter blomtyd maak.

Dus onverlee

lag ons maar mee

met elke toer

van Skoppensboer!

(Eugène Nielen Marais - 9 Januarie 1871 – 29 Maart 1936)

Winternag

O koud is die windjie

en skraal.

En blink in die dof-lig

en kaal,

so wyd as die Heer se genade,

le die velde in sterlig en skade

En hoog in die rande,

versprei in die brande,

is die grassaad aan roere

soos winkende hande.


O treurig die wysie

op die ooswind se maat,

soos die lied van ‘n meisie

in haar liefde verlaat.

In elk' grashalm se vou

blink ‘n druppel van dou,

en vinnig verbleek dit

tot ryp in die kou!

Eugène Nielen Marais

Die Stille Rusplaas

Drie verse uit 'Die Tuin van Proserpina'


Die Juigende, die Sterke -

Die dood sal hom ook raak;

Nooit sal hy vlieg met vlerke

Of pyn in vure smaak.

Die Skoonheid van die rose,

Die kom en gaan van blose

Stoor nooit die Liefdelose -

Waar liefde ons versaak.


Bevryd van dors na lewe,

Van al ons hoop en wee,

Dank ons - bo alle vrees verhewe -

Die gode wat dit gee:

Hier eindig al ons drome,

Hier rus die lewenslome,

Hier vloei die moegste strome

Uiteindelik in die see.


Nòg gloeiend' son, nòg duister,

Nòg keer van aand en dag,

Nòg waters sag gefluister

Sal ooit die slaap verkrag.

En soeter, sagter, vromer,

Vergeefs kom weer die Somer,

Want droomloos is die Dromer,

Verdiep in ewig' nag.

(Eugene Marais)

Waar Tebes In Die Stil Woestyn

Daar sou ek vrede weer besef

Waar Tebes in die stil woestyn

Sy magtig' rotswerk hoog verhef

En Mara in die sand verdwyn;


Waar smôrens van die hoogste krans

Die berghaan draaiend opwaarts spoed

Om uit die gloeiend' hemeltrans

Met groot geroep die son te groet;


Waar treurig nog die wolfgehuil

Weerklankend in die klowe dwaal,

En grootwild om die syferkuil

Soos skadu's in 'n stofwolk maal;


En huiswaarts brommend sluip die tier,

Sy donker moordplek pas verlaat,

Wanneer die eerste grou lumier

Met slepend' mis die veld beslaat.


O Land van al ons liefde, daar

Sou ek aanbiddend weer

Die kloppe van U hart gewaar,

U moederlike skoonheid eer.


Sou ek een guns nog hier verdien,

- Nog een gebed omhoog verhoord -

Geen mensepraal sou ek wou sien,

Die glorie van geen vreemde oord.

My bede sou net dit verkry: -

Laat weer U eensaamheid my daar

Vir laas met roerend' mag berei

U groter stilte te aanvaar.


Laat uitlok deur geen suil of steen

'n Enkel sug of woord van haat;

Met al U vrede om my heen

Sal nagt'liks uit die hemelstraat

Sag neerskyn op my laaste huis

Die vonkelend' sterrebeeld van U kruis.


Elk' ydel vrees sal daar verdwyn;

Daar sou ek vrede weer besef

Waar Tebes in die stil woestyn

Sy magtig' rotswerk hoog verhef.

(Eugene Marais)

Die spinnerak-rokkie

'n Feetjie het vir haar

uit spinnerak 'n doek vergaar;

'n rokkie wit as heuningwas

het sy toe aanmekaargelas.


Maar nouliks was dit om haar lyf,

toe kom 'n windjie, vlug en styf,

en met die uiting van sy sug

daar trek ons Feetjie deur die lug!


Haar maatjies staar haar treurig aan,

hoe sy hoog oor die bome gaan,

tot sy met heel haar rokkie fyn

daar in die verte glad verdwyn!


As jy 'n rokkie ooit besit

van spinnerak of iets soos dit,

pas op hoe jy jou dan verroer,

'n windjie mag jou glad vervoer!

(Eugene Marais)


Mabalel

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;

vrolik klink die liedjie

wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.

Op die voetpad sy alleen,

met die skadu's om haar heen;

op haar kop die kruik gelig

in gedienstig' ewewig.

Golwend kleur die hemelboog,

stadig sterf die laaste lig,

en van verre deur die skermmure

winkend blink die eerste vure.


Wydgestrek in eensaam' vrede

lê Rakwen', die stille, brede;

glansend in die westerpraal,

met ‘n ceintuur in sy diepte van koraal.

En die witgepluimde riet

sing ‘n treurig' wiegelied,

en buigend vleg ‘n wilwersoom al om

die diepgespieëlde hemelkom.


Wag, wag, Mabelêl!

Is daar niks wat jou vertel-

is daar niks wat deur die duister

bang en dringend in jou ore fluister

van die vreeslike gesel

wat jou vrolik' lied beluister,

wat jou spoor hou, Mabalêl?

Word jy niks gewaar

van 'n dreigende gevaar?

Voel jy nog nie, kil en snood,

Om jou hart die skadu van die dood?


Ver benee die palmietstele

in die bloue duister wag Lalele,

kwintessens van alles boos,

die Wreedheid self, meedoënloos;

met lydsaamheid wat alles kan ontbeer,

wat tyd en toeval kan trotseer;

wat seker as die Noodlot van sy dag

stil-wakker in die diepte op sy ure wag.

Deur winterkou en somergloed,

deur blankend' droogte en swelgend' vloed,

deur al die kerende taf'rele,

in sy diepte wag Lalele.


As die straaltjie in die sand

deur 'n vlam-geskroeide land

tussen walle dor en vaal

skaars die rotse van Rakwena haal,

en die hulsels van die riet

'n rouband bind van swart verdriet

om die groenbedekte kuil

waar die laaste water skuil

en die sugtend' wind versmag

deur 'n woedend' son verkrag, -

roerloos by die skepplek hou Lalele wag!


En wanneer in donker nagte

rasend losbreek al die magte

van geweld en storm en vloed,

en Rakwen' omring van angsgeskreeu,

smagtend sig nog eens te wreek,

soos 'n swaar gekweste leeu

swart en brullend deur die bome breek; -

blinkend uit die donker kolk, -

vlieg 'n vlammend' dolk, -

wat deur stormbanke dig

'n wêreld van verwoeste loof verlig -

ongeroer deur al die groot krakele

in sy diepte wag Lalele!


Droom sy op die kantjie, Mabalêl,

tot haar hart verlangend swel;

in haar peinse ongedeer,

staar sy in die diepte neer,

staar sy in die spieëlgewelf

met die donker reeds omsoom -

tot sy, dromend, self

deel word van ‘n salig' droom;

uit die wêreld omgekeer

lokkend lag haar beeldjie weer.


Stadig deur die rietpensele

opwaarts uit die diepte rys Lalele.


Skud jou wakker, Mabalêl!

Sien jy nie die skadu opwaarts wel?

Naar die hoogwal, Mabalêl!

Hou jou mymering vir later -

nooit had vyg of wilg in water

so 'n gespieëlde metgesel!

Nooit 'n skrikbeeld uit die holte van die nag,

wat die dromer sug doen na die dag;

nooit onheilige gedaante uit die diepte van die hel

half so dreigend, half so fel

as dié skadu, Mabalêl,

as dié skadu, wat benee jou

uit die diepte opwaarts wel.


Voor jou voete, Mabalêl,

deur die westergloor verhel,

waar jy onbedagsaam staar,

sonder ooit gedagte van gevaar,

uit die stroomweg stadig

dryf 'n halfverdrinkte blaar.


Had jy spiere van 'n tier,

of die vlerke van 'n gier,

meidjie, niks sou dit jou baar,

want te lank het jy gewag - te laat!

Uit die spieëlvlak omhoog

bars 'n skuimend' waterboog;

Oor Rakwena, kalm en breed,

Galm 'n enkel angsvol' kreet;

en dan saggies weer

oor alles sak die stilte neer.


Winkend deur die skermmure

helder blink die voornagvure.

Uit die donker stilte, skel,

klink geroep na Mabalêl

en die rotse antwoord weer;

maar terugkom sal sy ... nimmermeer.


Stadig deur die rietpensele

naar die diepte sak Lalele.

(Eugene Marais)


The Dance of the Rain

Oh, the dance of our Sister!

First, over the hilltop she peeps stealthily

and her eyes are shy

and she laughs softly

From afar she begs with her one hand

her wrist-bands shimmering and her bead-work sparkling

softly she calls

She tells the wind about the dance

and she invites it, because the yard is spacious and the wedding large

The big game rush about the plains

they gather on the hilltop

their nostrils flared-up

and they swallow the wind

and they crouch to see her tracks in the sand

The small game, deep down under the floor, hear the rhythm of her feet

and they creep, come closer and sing softly

"Our Sister! Our Sister! You've come! You've come!"

and her bead-work shake,

and her copper wrist-bands shine in the disappearance of the sun

On her forehead, rests the eagle's plume

She decends down from the hilltop

She spreads her ashened cloak with both arms

the breath of the wind disappears

Oh, the dance of our Sister!

(Eugene Marais - vertaal uit Afrikaans deur Nikita - chessaleeinlondon.wordpress.com)

Eugène Marais (1871–1936): ’n lewensoorsig deur Chris Barnard - 2012-08-16


Na aanleiding van Die Wonderwerker wat spoedig landwyd vertoon, deel Chris Barnard hier ’n lewensoorsig van Eugène Marais.

Eugène Marais word 76 jaar ná sy dood steeds beskou as een van die merkwaardigste mense wat ons land nog opgelewer het. Die buitengewone en uiteenlopende bydraes wat hy in sy relatief kort leeftyd van 65 jaar gelewer het, word dalk vandag eers behoorlik na waarde geskat, maar is in sy tyd reeds as buitengewoon beskou.

Hy was ’n merkwaardige digter, ’n politieke rebel, invloedryke joernalis, kenner van dieregedrag, prokureur, kampvegter vir Afrikaans, sterrekundige, “wonderdokter”, prospekteerder, storieverteller, swerwer en dwelmverslaafde. Ten spyte van min formele opleiding, ’n totale gebrek aan fondse en geen ondersteuningsbasis nie het hy wetenskaplike navorsingsresultate gelewer wat eietydse natuurkenners steeds verstom.

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 in Pretoria gebore as die dertiende en jongste kind van Jan Christiaan Nielen Marais, ’n afstammeling van die Franse Hugenote, en Catharina van Niekerk.

Die grootste deel van sy skoolopleiding ontvang hy in Engels – tussen 1878 en 1880 in Pretoria, van 1880 tot 1884 in Boshoff in die Vrystaat, waar hy by sy oudste broer Charles woon, en daarna in die Paarl terwyl hy by sy tante Lizzie Niemeyer woon, waar hy as sestienjarige met spesiale vergunning die matriekeksamen in die Paarl Public School skryf en slaag.

Hy keer terug na Pretoria en word prokureursklerk by sy broer se regsfirma. ’n Jaar later word hy verslaggewer by die Advertiser, maar word reeds as agtienjarige die ZAR Raadsaal se persbank verbied oor die aweregse en uiters omstrede artikels wat hy skryf.

In 1890 word hy, skaars 19 jaar oud, een van die jongste redakteurs in ons land se geskiedenis toe hy aangestel word as redakteur van Land en Volk. In 1891 koop hy en Jimmy Roos Land en Volk en in 1892 word hy alleeneienaar van die koerant, wat onder sy leiding een van die eerstes in die land word wat Afrikaans as skryftaal begin bevorder.

Hy is skaars mondig, maar hy is reeds uiters omstrede, invloedryk en merkwaardig suksesvol met alles wat hy aanpak. Dit word ’n kenmerk van sy lewe dat hy voortdurend die grense van gesag en die norme en denke van sy tyd toets en selfs uitdaag.

Hy trou in 1894 met Lettie Beyers, ’n aantreklike Boeremeisie van Natal, maar agt dae ná die geboorte van hulle eersteling sterf sy aan kraamkoors. Dit word ’n verlies wat hom die res van sy lewe bybly.

In 1895 loods hy seker sy felste aanval op Paul Kruger omdat dié ’n skenking van Sammy Marks aanvaar om ’n standbeeld vir Kruger op te rig. Marks het vroeër ’n drankkonsessie van Kruger ontvang en Marais het die geld vir die standbeeld beskryf as “drankgeld”.

Tog word Marais dieselfde jaar nog op versoek van generaal Piet Joubert ’n sleutelonderhandelaar met die sogenaamde Uitlanders in die twis wat sou lei tot die mislukte Jameson-inval.

Maar die dood van sy vrou en albei sy ouers binne net meer as ’n jaar is moontlik van die belangrikste redes hoekom Eugène Marais besluit het om elders van voor af te begin. Hy vertrek oorsee om in Engeland as regstudent in Londen te gaan studeer.

Hier kom hy in aanraking met allerlei nuwe denkrigtings en sosiale verskynsels wat later ’n rol in sy lewe sou speel. Een daarvan was sy kennismaking met die werk van die baanbreker van hipnotisme, Mesmer. Dit interesseer hom in so ’n mate dat hy self daarmee begin eksperimenteer – en jare later, terug in Suid-Afrika, met groot sukses toepas.

Die gebruik van opium was in daardie tyd in Londen sosiaal aanvaarbaar, selfs in die hoogste kringe, en Marais begin dit ook gebruik.

Dis duidelik: sy veeleisende studies in die regte hou hom nie besig genoeg nie. Hy begin ’n studie maak van slange en slanggif, hy verdiep hom benewens hipnotisme ook in medisyne en die Egiptologie, begin hiërogliewe ontsyfer, en hou ’n sjimpansee in sy losieskamer aan vir navorsing.

In 1902 verwerf hy sy graad in die regte.

Tydens sy studiejare in Londen volg hy die gebeure in sy eie land met groeiende kommer. Hy skryf talle briewe aan koerante in Engeland om die saak van die ZAR te stel. En so fel is sy kritiek dat die Britse regering hom laat dophou.

Marais hoor van ’n Europese ekspedisie wat op die been gebring is om hulp aan die Boere te verleen en besluit om by die groep aan te sluit. Hy ontmoet hulle na vele ontberinge in Beira. Net betyds om te hoor die vrede is reeds gesluit.

In Oktober 1902, terug in Pretoria, word hy as advokaat tot die balie toegelaat. Hy kry ook toestemming van die Britse regering om met Land en Volk voort te gaan, en hy stel Gustav Preller as redakteur aan.

Maar soos in Kruger se tyd is hy en sy koerant gou weer in die moeilikheid.

Lord Milner ontbied hom en trap hom uit oor sy anti-Britse beriggewing, maar hy steur hom skynbaar min daaraan en dieselfde jaar nog ontbloot hy in Land en Volk verskeie geheime Britse planne om die ZAR te verengels en Afrikaners te onderdruk.

Op 23 Junie 1905 verskyn sy later beroemde gedig “Winternag” onder ’n skuilnaam in Land en Volk. Dit word vandag beskou as ’n baken in die geskiedenis van die Afrikaanse poësie.

Wat was dit wat hierdie merkwaardige mens kort-kort sou dwing om ’n nuwe begin te maak? Was dit sy rustelose gees, sy nuuskierigheid oor die lewe en die wêreld om hom? Of was daar ander redes? Want in dié tyd gebruik hy reeds etlike jare lank morfine.

Hoekom? Dis ’n vraag wat nog nooit met sekerheid beantwoord kon word nie. Het dit begin ná die dood van sy jong bruid? Is dit vererger in Londen waar dit maklik beskikbaar en enigiets aanvaarbaar was? Het dit vir hom noodsaaklik geword as behandeling teen chroniese malaria wat hy op sy terugtog uit Europa in Mosambiek opgedoen het?

Die feit is: na drie jaar as suksesvolle advokaat en invloedryke koeranteienaar verlaat hy sy praktyk en verkoop sy koerant.

Hy praktiseer ’n kort rukkie in Johannesburg. En vat dan weer die pad. Waterberge toe. Om te gaan prospekteer. Maar dis gou reeds ook nie meer genoeg nie. Hy gaan woon saam met Alec Austen in die berge om bobbejane te bestudeer. Hy kry werk by Union Tinmyn as myndokter, regsadviseur en padboutegnikus, en begin hom ingrawe in die geheime lewe van termiete.


Van 1908 tot 1917 woon hy op die plaas Rietfontein van Gys en Maria van Rooyen. En dit word sewe van sy gelukkigste jare. Hy bestudeer termiete en slange, probeer met perde teel, prospekteer, skryf gedigte en sy later bekende Dwaalstories, en bou ’n reputasie op as “wonderdokter” – veral nadat hy Hessie van Deventer, wat twaalf jaar heeltemal verlam was, deur hipnose genees en sy weer kan loop.

Dis hier op Rietfontein waar hy Jane Brayshaw ontmoet, ’n negentienjarige meisie wat deur die Van Rooyens grootgemaak word. Hy doen baie van sy hipnose-eksperimente op haar. En raak op haar verlief.

Dis nie die eerste keer dat so iets met hom gebeur nie, en ook nie die laaste keer nie. Dis asof hy telkens, selfs vyftien jaar ná sy vrou Lettie se dood, weer sy hart verloor op iemand wat so oud is soos sy destyds was. Vroeër in Londen was dit Suzanne, later in Johannesburg was dit Anne. Nou is dit Jane.

Maar hy besef hy is byna veertig jaar oud, en hy weet sy morfine-verslawing is ’n struikelblok. In die verlede het vroue hom nog altyd aantreklik en sjarmant gevind, en vir party was hy onweerstaanbaar. Daar is stories dat selfs Maria van Rooyen, ouer as hy, hom meer as net bewonder het. Sy probeer hom van sy verslawing genees deur sy morfine-gebruik te beheer, en kry sodoende mag oor hom. Wat dalk een rede is hoekom hy in 1915 van Rietfontein af padgee.

En dit is die begin van sy laaste klompie swerfjare. Maar ook van vrugbare skryfjare.

Hy bly hier en daar by vriende, en begin skryf aan The soul of the Ape. En in 1917 begin hy weer ’n advokatepraktyk in Pretoria.

Heelwat van sy artikels, gedigte en verhale verskyn in Die Brandwag, Boerevrou en Die Volkstem – waaronder “Skoppensboer”, “Mabalel” en “Waar Tebes in die stil woestyn”.

Hy verlaat sy praktyk in Pretoria en sluit in 1921 aan by ’n regsfirma in Bronkhorstspruit. Maar dit hou ook net ’n paar maande. In Mei 1922 verhuis hy na Heidelberg, waar AG Visser ’n mediese praktyk het. En die vriendskap wat tussen die twee ontwikkel, beteken vir albei baie. Visser help Marais met sy verslawing en wys hom van die gedigte wat in sy eie laaie rondlê.

En vir albei word 1925 ’n goeie jaar. Marais publiseer sy eerste en enigste digbundel, en help AG Visser om ook sy eerste bundel op die mark te kry – albei bundels met dieselfde, eenvoudige titel: bloot net Gedigte.

In dieselfde jaar verskyn die eerste ses hoofstukke van Die siel van die mier in Die Huisgenoot, en ook Die siel van die aap as vervolgreeks die volgende jaar.

In ’n desperate poging om Marais se gebruik van morfine te beheer en al hoe meer te beperk, kry Visser vir hom verblyf by ’n boeregesin op ’n plaas buite Heidelberg waar hy nie self sy voorraad kan aanvul nie. Maar die plan werk nie en veroorsaak net spanning.

In 1927 publiseer die befaamde Belgiese navorser Maurice Maeterlinck sy boek La vie des termites (Die lewe van die termiet) – nie in sy moedertaal Nederlands nie, maar in Frans. Dis baie duidelik hy het Marais se reeks in Die Huisgenoot gelees en Marais se navorsing vir homself toegeëien. Dit veroorsaak ’n wêreldwye skandaal, en is vir Marais ’n geweldige skok en teleurstelling.

Soos voorheen gaan neem hy sy toevlug tot die Waterberg, waar hy onder meer ’n nuwe broodboomspesie ontdek. Maar vir hom is dit die begin van die afdraandepad. Hy is nie meer jonk nie, hy is meestal werkloos en dikwels eensaam. Sy verslawing het hom teen dié tyd van die meeste van sy vroeër vriende vervreem, en hy voel sy lewe is op pad nêrens heen.

Terug in Pretoria is hy dikwels afhanklik van die genade van ander mense. Hy woon van tyd tot tyd by sy jare lange kollega en vriend Gustav Preller, en later op Preller se plaas Pelindaba naby die Hartebeespoortdam. Hy skryf nog soms artikels en verhale vir Die Vaderland, maar nou meer om den brode as iets anders. Sy wetenskaplike artikels is nou soms oppervlakkig en meer gerig op sy lesers se verbeelding as op feite.

Van sy versamelde werk verskyn in boekvorm, waaronder Die huis van die vier winde, Die leeus van Magoeba en Die siel van die mier. En soms in ’n tydskrif van sy laaste en beste gedigte, soos Diep rivier en Wanneer dit reën op Rietfontein.

Vir ’n bietjie sakgeld staan Eugène Marais soms by die ontvangstoonbank van Die Vaderland se kantore ’n artikel en skryf wat hy dan aan die koerant verkwansel.

Die Prellers het intussen ’n nuwe woonhuis op Pelindaba gebou en Marais woon in die ou rondawelhuis.

Op 29 Maart 1936, ’n triestige en reënerige dag, kan Marais nie meer nie. Hy stap ’n myl deur die reën na ’n buurman, Lood Pretorius, en vra om ’n koeëlgeweer te leen. Hy beweer daar is ’n slang in sy rondawel. ’n Mens skiet nie ’n slang met ’n koeëlgeweer nie, sê Pretorius. Vat die haelgeweer. Mooipraat help nie, en Marais vertrek met die haelgeweer.

’n Klein entjie van Pretorius se huis af skiet Marais homself in die kop.

Minstens agt van sy boeke verskyn vir die eerste keer ná sy dood. En in 2003, 67 jaar na sy dood, word hy deur ’n onafhanklike internasionale paneel aangewys as een van Afrika se top 15 letterkundiges van die 20ste eeu.

Maar vir hom was dit heeltemal te laat.

In 1894 trou Eugène Marais met Lettie Beyers, ’n beeldskone Boerenooi van Natal, maar agt dae na die geboorte van hul eerste kind sterf sy aan kraamkoors – ’n verlies wat die res van sy lewe beïnvloed.

Hy vertrek in 1898 oorsee en studeer in Londen in regte en medisyne. In 1902 is hy terug in Suid-Afrika en word as advokaat tot die balieraad toegelaat.

Op 23 Junie 1905 verskyn Marais se beroemde gedig “Winternag” in Land en Volk. Dit word vandag beskou as ’n mylpaal in die Afrikaanse poësie.

Hy gaan woon ’n aantal jare in die Waterberge, waar hy navorsing doen oor veral primate en termiete. Dit trek wêreldwyd aandag.

Weens sy morfineverslawing voer hy die laaste jare van sy lewe ’n sukkelbestaan, ten spyte van al sy suksesse, en in 1936 pleeg hy selfmoord op Pelindaba net buite Pretoria.

Koue Vuur


Die kole gloei, soos vroeër aande.

Maar die vuur is in my kop.

En 'n ysige wind, skroei my hande.

Vas teen die beker, met dop.


Die ryp is 'n vlam om my voete.

Maar die koue, brand in my bors.

En ek drink en ek dink aan die soeter, wyn teen die groter dors.

Met 'n koue hart, tot die môre uur.

Drink ek teen die vuur in my kop.

En ek voel die koue, ek voel die vuur.

Vreet my stuk-stuk op.

Vreet my stuk-stuk op.


Daar's teveel, met die wêreld gefoeter.

Daar's teveel met die mense gemors.

En ek drink en ek dink aan die soeter, wyn teen die groter dors.

Met 'n koue hart, tot die môre uur.

Drink ek teen die vuur in my kop.

Ek voel die koue.

Ek voel die vuur.

Vreet my stuk-stuk op.


Die helde, na al die geploeter.

Lê diep in die aarde se kors.

En ek drink en ek dink aan die soeter, wyn teen die groter dors.

Met 'n koue hart, tot die môre uur.

Drink ek teen die vuur in my kop.

En ek voel die koue.

Ek voel die vuur.

Vreet my stuk-stuk op.

Met 'n koue hart, tot die môre uur.

Drink ek teen die vuur in my kop.

En ek voel die koue.

Ek voel die vuur.

Vreet my stuk-stuk op.

En ek voel die koue.

Ek voel die vuur.

Vreet my stuk-stuk op.


(Koos du Plessis - 10 Mei 1945 tot 15 Januarie 1984)


(Koos du Plessis - 10 Mei 1945 tot 15 Januarie 1984)


Bo is die Seisoene van die Kerkjaar.

(Kliek op `n simbool om na die  beskrywing te gaan.)

Die begin by die Alfa en die einde by die Omega, (Jesus is die begin en die einde)  met die simbole beginnende by die Adventskers, dan die krip, epifanie of Lig (ster) , die kruis , Paasfees , duif (Pinkster en dan die skippie (uitgaan, Koninkrykstyd). Die sentrale simbool van hierdie tyd is dié van die kerk as ‘n bootjie met ‘n kruis op. Dit simboliseer die kerk as draer van die kruis in die wêreld.  Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”  Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.  Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.” Advent in Christelike jaar Kerstyd in Christen kalender Epifanie in Christen Kalender Lydenstyd in Christen kalender Hemelvaart in Christen kalender Pinkster in die Christen Kerk Koninkrykstyd in die Christen kalender

Kliek hier vir `n beskrywing van die Seisoene van die Kerkjaar soos op die NG Kerk Plumstead se webwerf by:

www.ngkerkplumstead.weebly.com/seisoene-van-die-kerkjaar.html

Seisoene van die Kerkjaar.pdf

Die blinde sien


Hy sien die starre oë dof,

Met deernis spu Hy in die stof

En meng ’n salf van modderslyk

Om aan onsienend oog te stryk.

En aan die blinde man gelas

In bad van Siloam te was.


Die bad was seker nie te ver,

Want bedelaar die haas hom her

Hy struikel aan met haastig tree

Om aan profeet gehoor te gee.

Die skille van sy oë was

Die rede waarom hy nou ras.


Die was, was nie primêr beleid

Maar sy geloofsgehoorsaamheid.

Want dit was op die Sabbatdag

Wanneer geen mens geen werk vermag.

Maar hy’t gewas en kon toe sien

En keer terug om God te dien.


En op die skedelberg omhoog,

Drup Godlik bloed in stof en droog

In gees aan siele oog gewend.

Gewas in Heilig Sakrament,

Volmaking van Gods’s heilsverbond –

Die offer aan die kruis verwond.














Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 25 Augustus 1984