Langkloof

Joubertina Omtrent Ons Dit-en-dat Eetplek Besighede Natuur Geestelik

Kerstyd

Kersfees tot 5 Januarie

Die betekenis van Kerstyd gaan deesdae maklik verlore in die kommersialisering van die fees en die werklike betekenis word nie meer verstaan nie. Kersfees en Advent word ook baie maklik verwar sodat beide feeste van hulle betekenis beroof en gelowiges daardeur verarm word.

Kersfees begin reeds die aand na sonsondergang op 24 Desember en duur vir twaalf dae tot die fees van Epifanie op die 6e Januarie. Dit verduidelik dan ook die Engelse Kersliedjie The Twelve days of Christmas. Die Engelse naam Christmas, word afgelei van Christ mass, of 'n mis gehou ter ere van die geboorte van Christus op 25 Desember. Kersfees was nie deur die eerste Christene gevier nie, maar was in die jare tussen 300 – 400  NC as 'n Christen fees ingestel deur die vroeë kerkvaders.

Dit is heelmoontlik dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie maar dat die datum deur die ou kerkvaders gekies is om saam te val met die wintersonstilstand wat op 25 Desember gevier is deur die mense wat heidense afgode aangehang het. Die antieke Perse het 'n god van lig, Midras, erken en die Romeine het eer aan Midras gebring met 'n fees in die middel van die noordelike halfrond winter. Daar was ook ander heidense gode wat in hierdie tyd vereer is met feesviering en die gee van geskenke, soos die songod en Saturnus, die god van landbou. Christene eer deur die fees van Kersfees Christus as die ware lig van die wêreld.

Vir Christene is Kersfees die viering van Christus se geboorte. Die betekenis wat gelowiges in die fees moet sien lê ver anderkant die betekenis wat die sekulêre wêreld vir ons daaraan wil gee. God het mens geword en onder ons kom woon om vir alle mense die hoop van ewige redding te bring. Ons aanbid 'n lewende God wat omgee en wat bemoeienis maak met Sy kinders in hulle alledaagse lewe. Met Kerstyd vier ons die wonder van God wat Homself kom bekendmaak aan die mensdom.

Kersdienste word in verskillende dominasies op verskillende maniere gehou. In Afrikaanse kerke is die gebruik om 'n erediens vroegoggend op Kersdag te hou sodat almal daarna die dag saam met familie en vriende kan deurbring. In ander denominasies is dit ook die gebruik om op Oukersaand 'n gesinsdiens te hou, soms selfs 'n middernagdiens.

Die kleure in Kerstyd is wit en goud, wat dui op feesviering en vreugde. Die krip en die Betlehem ster is die vernaamste simbole wat die Kersverhaal weerspieël, so ook engele en herders. Kerse is 'n voortsetting van die fees van Advent, maar nou is dit nog meer 'n herinnering aan Christus as Lig van die wêreld.

'n Interessante ou gebruik wat nou verval het is die viering van die twaalf dae van Kersfees van 25 Desember tot 5 Januarie. Dit fokus op die geskenke wat ons van God ontvang:

Dag een: Jesus Christus, die eniggebore Seun van God

Dag twee: Die twee dele van die Bybel, die Ou en die Nuwe Testament

Dag drie: Die drie groot deugde, geloof, hoop en liefde (1 Kor:13)

Dag vier: Die vier evangelies, Matteus, Markus, Lukas en Johannes

Dag vyf: Die Pentateug, of die eerste vyf boeke van die Bybel, Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium

Dag ses: Die ses dae van die skepping (Gen 1)

Dag sewe: Die sewe gawes van die Gees (Rom 12, 1 Kor 12)

Dag agt: Die agt saligsprekinge (Matt 5)

Dag nege: Die vrug van die Gees (Gal 5:22)

Dag tien: Die Tien Gebooie (Exodus 20)

Dag elf: Die elf getroue dissipels (Dissipels)

Dag twaalf: Die twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis. (Teks)


Hierdie blaai bevat inligting rakende die siklusse in die Christelike kerkjaar. Hierdie is spesifiek oor ‘Kerstyd.’

Inligting is plaaslik en uit die webblaaie van die NG Kerk Constantiapark en Linden verkry sowel as Wikipedia. Ons dank julle.