Langkloof

Joubertina Omtrent Ons Dit-en-dat Eetplek Besighede Natuur Geestelik

Lydenstyd

Epifanie tot PalmSondag

Lydenstyd is die 40 weeksdae en sewe Sondae wat Paasfees voorafgaan. Lydenstyd eindig op Stilsaterdag, die Saterdag voor Paassondag. Hierdie is 'n tyd van hertoewyding aan die Here.

In die vroeë kerk was die Sondag voor Paassondag 'n vasdag en 'n dag vir boetedoening. Hiervan het die gebruik gekom om die veertig dae voor Paasfees as 'n tyd van vas en boetedoening te gebruik. Op Sondae was die vas onderbreek om Jesus se opstanding te vier. Tradisioneel was hierdie ook die tyd waarin nuwe bekeerlinge voorberei was vir hulle toetrede tot die kerk. Met die Hervorming het die fokus verskuif van boetedoening na God se genade en 'n lewe van dankbaarheid wat daaruit voortvloei. In ons dankbaarheid kyk ons ook na ander wat in nood en lyding verkeer en raak ons betrokke by hulle om hulle nood te verlig.

Die belangrikste simbool vir Lydenstyd is die kruis. Ander simbole wat gebruik kan word is spykers, 'n doringkroon, 'n sweep, 'n pers kleed en 'n groot wit kers met 'n doringkroon daarom gedraai. Op Palmsondag kan palmtakke ook die kerk ingedra word. 'n Pad of 'n oop Bybel kan gebruik word om die weg van waarheid en lewe voor te stel. Hierdie voorstellings kan mettertyd verander word na voorstellings van die Via Dolorosa, die lydensweg van Jesus in Jerusalem. 'n Kandelaar met sewe kerse kan gebruik word om die sewe weke van Lydenstyd af te tel. Elke week word een kers doodgeblaas tot die laaste kers op die Donderdagaand voor Goeie Vrydag doodgeblaas word.

Op Aswoensdag, in die kerke wat Aswoensdag vier, is die kleur grys om aan as te herinner, die Bybelse simbool van rou en berou. Vir ander kerke is die kleur pers tot met Heilige Week, die laaste week voor Paassondag. Op Palmsondag verander die kleur na donkerrooi en op Heilige Donderdag of Goeie Vrydag verander dit na swart. Op Paassondag verander die kleur na wit.

Eerste Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Matt 4:1-11; Genesis 2:15-17; 3:1-7; Psalm 32; Romeine 5:12-19 Die gedeelte in Matteus handel oor die versoeking wat Jesus in die woestyn weerstaan het. Dit staan in kontras met die Genesisteks wat die verhaal vertel van die eerste mense wat geswig het voor die versoeking wat aan hulle gestel is. Die psalm is 'n belydenis van skuld en 'n dankbare aanvaarding van God se vergiffenis. In die teks in Romeine word die oortreding van die eerste mense en die gevolge daarvan gestel teenoor die gehoorsaamheid van Christus en die vryspraak wat daaruit voortvloei. (Uit: Preekstudies en Liturgiese voorstelle 2011)

Tweede Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Gen 12:1-4a; Ps 121; Matt 17:1-9; Rom 4:1-5, 13-17; Joh 3:1-17
Die fokusteks is die gedeelte in Matteus. Dit handel oor Jesus se verheerliking op die berg waar Hy weer eens, soos met sy doop, deur God aangewys is as sy geliefde Seun. Die Genesisteks handel oor die roeping van Abraham om tot seën vir al die volke op aarde te wees. Die Psalm is 'n pelgrimslied waarin die gelowige pelgrim verseker word van God se bystand en beskerming op die reispad. Die teks uit Romeine sluit aan by die verhaal van Abraham en beskryf hom as die vader van almal wat glo soos hy geglo het. Die teks uit die Johannes evangelie vertel die verhaal van Nikodemus wat Jesus in die nag kom besoek het. Op soortgelyke wyse as in die fokusteks word Jesus beskryf as die enigste Seun van God. Wenk: Lees 'n gedeelte 'n paar keer deur en vra dan: Wat staan vir my uit? Dink en bid dan verder daaroor. Dit kan nog meer sinvol wees om dit saam met ander te doen!

Derde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Joh 4:5-42; Eks 17:1-7; Ps 95; Romeine 5:1-11
Die fokusteks handel oor Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou oor die water wat ewige lewe gee. Die Eksodusteks vertel die verhaal van die water uit die rots by Massa/Meriba tydens die woestynreis van die Israeliete. Die insident by Massa/Meriba kom weer aan die orde in die psalm, in die geval met spesifieke verwysing na die opstandigheid van die Israeliete. Die teks uit Romeine handel oor die vyandskap tussen God en mens wat deur Jesus se versoeningsdood uit die weg geruim is.

Vierde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Joh 9:1-41; 1 Sam 16:1-3; Ps 23; Efes 5:8-14
Let op na die gebruik van die beeld van die herder. In Johannes praat Jesus van Homself as die goeie herder wat na sy skape (volgelinge) omsien en selfs sy lewe vir hulle aflê. In die psalm is dit God wat as die herder beskryf word wat sy kudde liefdevol versorg en beskerm.

Vyfde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Joh 11:1-45; Eseg 37:1-14; Ps 130; Rom 8:6-11
In die fokusteks wat handel oor die opwekking van Lasarus uit die dood, verwys Jesus na Homself as die opstanding en die lewe. Ook die Esegiëlteks handel oor lewe uit die dood aan die hand van die visioen van beendere wat tot lewe gewek word. Die psalm is die lied van gelowiges wat ten spyte van moeilike omstandighede steeds hulle vertroue op die Here stel. Die teks uit Romeine fokus op die verskil tussen ’n lewe wat deur die sondige natuur beheers word, en ’n lewe wat deur die Gees van God beheers word. Ook in dié gedeelte is daar sprake van die sterflike liggaam wat lewend gemaak word deur die werking van die Gees.

Sesde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Ps 31:9-16: Ps 118:1-2; 19-29; Matt 21:1-11; Jes 50:4-9a; Fil 2:5-11; Matt 26:14-27: 66

Palmsondag en Heilige Week

Week voor Paasfees

Die wêreld maak veel van Paasfees maar vergeet gerieflik dat Lydenstyd en Heilige Week Paasfees voorafgaan. Sonder die gebeure wat in Heilige Week (ook bekend as Groot Lydensweek) herdenk word het die 'fees' in Paasfees min sin.

Die vroeë Christene wat nog steeds hulle Joodse wortels onthou het, het steeds die tradisie van 'n agt dae nagwaak voor Pasga gevolg. Met verloop van tyd het dit ook tradisie geword vir ander Christene wat nie vanuit die Joodse agtergrond gekom het nie, om die week voor Paasfees sekere gebeure te herdenk.

Heilige Week begin die Sondag voor Paasfees met Palmsondag.

Palmsondag - Jesus se intog in Jerusalem (Markus 11:1-11; Lukas 19:28-44)

Maandag - die reiniging van die tempel (Markus 11:15-19; Lukas 19:45-48 )

Dinsdag - strydgesprekke in Jerusalem (Markus 11:27-12:14; Lukas 20)

Woensdag - Jesus rus in Betanië, Hy word gesalf (Markus 14:3-9; Matteus 26: 6-13)

Donderdag - Instelling van die Nagmaal, was van voete, Getsemane (Mar 14:22-72; Joh 13)

Vrydag (Goeie Vrydag) - Kruisiging, begrafnis (Markus 15; Lukas 23)

Saterdag (Stil Saterdag) - Jesus in die graf (Lukas 23:56b)

Sondag (Paasfees) - Jesus oorwin die dood en verkry ook vir ons die oorwinning (Markus 16; Lukas 24)

Tydens Heilige week is die kleur bloedrooi en vir Goeie Vrydag is dit swart.

In ander kerkgenootskappe is dit die gebruik om 'n erediens of 'n informele byeenkoms, elke dag, in hierdie week te hou. Donderdagaand word die kerk van alle versierings gestroop en alle kerse word doodgeblaas in voorbereiding vir Goeie Vrydag. Stil Saterdag word soveel moontlik in stilte herdenk. Op Opstandingsondag word 'n diens van voor sonop tot net daarna gehou sodat die lig van die opkomende son Jesus se opstanding uit die dood kan simboliseer. Agterna kan 'n gesamentlike ontbyt gehou word. Indien die diens in die kerk gehou word word die kerk met blomme versier.


Paasfees

50 Dae tot Pinkstersondag

Die Paassiklus sluit in Paasfees, Hemelvaart en Pinksterfees.

Pasga is 'n belangrike fees in die Joodse liturgie. Gedurende die fees herdenk hulle die verlossing van Israel uit Egipte. Dit is elke jaar getrou gevier met vreugde en in afwagting op die koms van die Messias. Paasfees het vir Christene die fees geword om die opstanding van die Here te vier, die seisoen van nuwe lewe.

Die Christelike geloof en die kerk het uit die geloof in die opstanding van Jesus Christus ontwikkel. As Jesus nie na sy opstanding aan die verslae dissipels verskyn het nie, sou daar nie so iets soos die Christelike geloof of die kerk bestaan het nie. Die vroeë Christene het mekaar in vreugde gegroet: “Christus het opgestaan!” Paasfees is dus die kern van die viering van die kerklike jaar en daarom die groot hoogtepunt van die kerklike jaar.

Tradisioneel is die viering van Paasfees reeds begin teen sononder op Stil Saterdag. Die vroeë kerk het Paasfees met 'n Paaswaak gevier wat die hele nag geduur het. Later het sommige kerke die tradisie vervang met 'n middernagdiens wat in donkerte begin het (die donkerte van die graf). Deur die verloop van die diens word een kers gebruik om gemeentelede se kerse een vir een aan te steek sodat die diens eindig in 'n helder verligte kerk met die lig as simbool van die opstanding en Jesus as Lig van die wêreld wat teruggekeer het uit die dood. 'n Moderner neiging is om Paasfees met sonsopkoms op Paassondag te vier. Die opkomende son dien om die gelowiges te herinner aan Jesus se opstanding uit die graf, aan Sy lig wat oor die duisternis seëvier.

Die tyd tussen Paasfees en Pinkstersondag, 'n tydperk van 50 dae, staan bekend as Paastyd en neem dieselfde plek in die kerklike jaar in as wat Sondag in die week inneem. Na die pers van Lydenstyd, wat na rooi verander in die Groot Lydensweek en na swart op Goeie Vrydag, word wit, die kleur van oorwinning en reinheid nou gebruik. Die kleurveranderings simboliseer die feit dat die bose oorwin is en dat ons skoon gewas word van sonde. Eiers is 'n simbool van nuwe lewe en herinner ons ook aan die nuwe lewe wat Jesus se opstanding vir ons inhou. Die vroeë Christene het hardgekookte eiers waarvan die dop rooi gekleur is aan mekaar uitgedeel op Paassondag met die groet: “Christus het opgestaan”, en die antwoord: “ Christus het waarlik opgestaan!”

Kyk hier hoe om uit te werk op watter dag Paasfees in 'n spesifieke jaar val.

Tekste om in Paasfees te lees

Lees gerus in hierdie tyd: Psalm 118:1-2, 14-24; Jesaja 25:6-9; Johannes 20:1-18; Handelinge 10:34-43; Openbaring 1:1-18.

Psalm 118:1-2, 14-24 - 'n oorwinningslied, 'n jubelende danksegging na redding van die dood.
Jesaja 25:6-9 - 'n Paasfees visie van die lewe in die teenwoordigheid van die Lewende God.
Johannes 20:1-18 - die evangelis se beskrywing van die gebeure rondom die oop graf.
Handelinge 10:34-43 - Petrus se verklaring van die Evangelie aan die mense in Cornelius se huis bymekaar.

Openbaring 1:1-18 - Johannes se visie van die herrese Heer, maar die keer as die verheerlikte Christus.


Hierdie blaai bevat inligting rakende die siklusse in die Christelike kerkjaar. Hierdie is spesifiek oor ‘Lydenstyd.’

Inligting is plaaslik en uit die webblaaie van die NG Kerk Constantiapark en Linden verkry sowel as Wikipedia. Ons dank julle.

Golgota


Met rooi, gewonde voete en die pyn

van dorings wat sy hoof in spot omsluit,

het Hy - gelaaf met mirre en bitter wyn-

teen Golgota sy droewe gang gestuit.


Soldate het sy klere uitgetrek

en luid getwis oor kleed en lendedoek:

sy naakte liggaam het hul oopgevlek

oor stam en balk en dit met smaad vervloek.


Die wrede spykers word deur vlees en been

met felle slae ingejaag: sy hande,

verstrak in laaste,  goddelike seën,

het Hy wyd uitgebrei oor alle lande….


Die vroue roep in duisternis en treur…

Die aarde beef… Die tempelvoorhangsel skeur.


(uit Die Passie van ons Heer – WEG Louw)

Gekruisigde Jesus deur Carole Foret

Opstanding


Drie dae was daar duisternis…Alleen,

in diep gelatenheid,  soos in die sand

‘n suiwer saad wat wag op son en reën,

het al sy sterflikheid stil weggebrand:


Die swaar en trae slakke van die vrees,

sy onrus, vrees, verwarring en waan,

dat Hy,  één met die Vader en die Gees,

verheerlik in die lig weer op kan staan.


Die wagte kon in daardie gloed nie kyk.

Die steen is afgewentel deur ‘n wind

wat uit vier hemelstreke op die aarde stryk

dat dit vergruisel is tot stof en grint,


en soos uit diepe duisternis ‘n vlam,

staan hoog en rank en smetteloos die Lam!


(uit Die Passie van ons Heer – WEG Louw)