Langkloof

Joubertina Omtrent Ons Dit-en-dat Landbou Eetplek Besighede Natuur Geestelik

Op hierdie blaai is allerlei inligting omtrent Joubertina die dorp en sy omgewing. As daar iemand is wat `n interessante bydrae kan stuur vir plasing hier sal dit baie waardeer word. Dit is kommerwekkend dat die geskiedenis en breër prentjie van `n omgewing so maklik verlore kan gaan deesdae. Dit is tog so dat mens uiteindelik aan die geskiedenis jouself kan plaas in die hede en dan `n visie vir die toekoms kan bou wat die verlede sal oortref.

Paul Kruger het dit baie raak gevat toe hy gesê het “Neem uit die verlede wat goed is en bou daarop die toekoms."

Stuur assseblief bydraes aan joubertinadorp@gmail.com

Kliek hier vir `n artikel oor die Onder-Kouga deur Professor Cobus Ferreira (O.J.O.)

Geskiedenis oor die Onder-Kouga deur Dr OJO ferreira Foto geneem deur Errol Swanepoel wat die stasie besoek het op 1 April 2005 Ossewa in Joubertina, 11 September 1995 - Foto opgelaai deur Michael Denne on Panoramio.com John Deere 60 by Joubertina V.V.T.E.S. 2009 - DvdB NGG16-127 - Joubertina - KSC NG G13 80 plinthed at Joubertina station in the Langkloof, 18 October 2009

Kaart van Joubertina omgewing

Kaart van Joubertina omgewing

Ligging


Joubertina is 'n klein dorpie wat geleë is in die hart van die Langkloof - een van die bekendste streke in die verbouing van appels, pere en ander sagtevrugte in Suid-Afrika. Dit is die hoofdorp van die Langkloof en is geleë tussen die Tsitsikammaberge enKougaberge in die Suidoos-Kaap. Dit grens aan die Waboomsrivier aan die westekant en is in die hart van die Langkloof, 'n pragtige vallei van ongeveer 120 km in lengte. Die vallei strek van oos na wes parallel met die Plettenbergbaai kusstreek met ingangsroetes by die PotjiesbergUniondale aan die westekant en Kareedouw aan die oostekant.


Geskiedenis


Die bestaansrede vir die dorp is hoofsaaklik as gevolg van die vrugteboerdery gemeenskap. Die dorpie is in 1907 gestig en het eers "Joubertville" geheet, waarna dit verander was na Joubertina, omdat die Spoorwegmaatskappye reeds 'n halte in die Karoo met dié naam, Joubertville, gehad het. Die dorp is vernoem na die predikant van Uniondale, waarvan die gemeente afgestig het. Hierdie dorpie het ontstaan, toe daar na heelwat vertoë en samesprekings, in 1907 van die gemeente Uniondale afgestig is. Aanvanklik is daar besluit om die nuwe gemeente na ds. W.A. Joubert, ’n voormalige predikant van Uniondale wat die Langkloof bedien het, te vernoem. Die naam is egter ’n paar keer weens besware deur onder meer die Departement van Spoorweë, verander nl. Joubertsburg na Joubertsville en oplaas Joubertina.[1]


Skole


Die dorp beskik oor 'n laer- en hoërskool, die Hoërskool McLachlan. Gemelde skool is gestig in 1912 en vernoem na die eerste werklike skoolhoof, Mnr. Jakobus du Toit McLachlan, wie die vader was van die bekende komponis, Philip McLachlan. Die skool het 'n totale getal van ongeveer 300 leerders in die hoër- en laerskool. Die skool beskik oor 'n seuns- en meisieskoshuis, wat onderskeidelik Huis Badenhorst (seuns) en Huis Bester (meisies) heet. In die nabye omgewing en dorpies is daar ook 'n aantal laer- en plaasskole.


Langkloof


Die "vrugbare vallei" wat geleë is tussen die Tsitsikamma- en Kougaberge was 200 jaar voor die ontstaan van die twee dorpe (Joubertina en Kareedouw) reeds op die "landkaart". Daar word gesê dat ’n ekspedisieleier, ene Schrijver, waarskynlik dié vallei aan hom sy naam – Langkloof, gegee het.


Die Langkloofvallei was oorspronklik die tuiste van die Boesmans en hul rotstekeninge en rotsskuilings is steeds volop in die Kougaberge en Hoerree (wat "baie water" beteken). 'n Boesmanmummie is onlangs in die Kouga ontdek. Hul rotstekeninge wys dat daar eeue gelede troppe wilde esels, hartebeeste en olifante hier gedwaal het. Die eerste Europeërs het dié gebied in die laat 17de eeu binnegegaan en het die eerste Europeërs hul verskyning eers in die middel 18de eeu gemaak. Joubertina is aanvanklik gestig om te dien as ‘n kerksentrum vir die Langkloofvallei.


Die Waboomsrivier wat wes van die dorp vloei vloei, soos die Krakeel-, Louterwater- en Tweeriviere(n) ("Tweederiviere") in die Kougarivier in, op sy beurt weer 'n sytak van die Gamtoosrivier. Die Wabooms het al heelwat geskiedenis ervaar toe in 1802 'n Xhosamag uit die ooste 'n aanval op die Kolonie probeer maak het, maar deur die plaaslike kommando afgeweer is. Byna 'n eeu later het die Britte tydens die Tweede Vryheidsoorlog kamp op die walle van die rivier gemaak.


Bekende families


Bekende families van die Langkloof wat hier voorkom is Kritzinger (Misgund en Onderplaas), Olivier (Twee Riviere), Gerber (Kouga), Ferreira (Kouga) en Strydom (Krakeelrivier). Die Kritzingers is oorspronklik van Duitsland; die Oliviers van Frankryk; Gerbers van Duitsland (en Joodse afkoms); Ferreiras (Perreira) van Portugal (en Italië) en Strydoms (Strijdom) van Holland. Die Kritzingers van Tulpieskraal, destyds Onzer, is die stamfamilie vir al die Suidelike-Afrikaanse Kritzingers. Die voormalige Eerste Minister JG Strijdom was verwant aan die Krakeel Strydoms.


Sentrale Sakegebied


Die NG Kerk is 'n bekende baken in die dorp. Dit is gebou van klip uit die omgewing en bestaan al die houtwerk en banke uit geelhout wat met ossewaens vanaf die nabygeleë Knysna af oor die Tsitsikammaberge vervoer is. Die dorp beskik nie oor enige verkeersligte nie en het geen verkeersafdeling nie. Dit het slegs 'n polisiestasie. Die dorpsentrum bevat algemene handelaars, klerewinkels, poskantoor, landdros, twee banke en 'n plaaslike museum.


Aanvanklik het die boerderybedrywighede uit kleinboere bestaan wat 'n bestaansekonomie gevoer het met die verbouing van groente en vrugte op klein skaal.


Appeltrein


Later het die bekende smalspoor-stoomlokomotief (610mm) in die Langkloof gekom en die appels en ander vrugte na Port Elizabeth, die naaste groot hawestad, vervoer. Gedurende die tagtigerjare was die gebruik van die smalspoortrein gestaak en was van padvervoer gebruik gemaak. Daar is 'n enkele stoomlokomotief ter nagedagtenis van 'n vervloë era as monument op die dorp opgerig.


Weens die hoë onkoste van die verbouing van appels en ander sagtevrugte het dit onmoontlik geword vir die kleinboere om 'n ekonomiese vatbare bestaan te voer en moes sommige noodgedwonge hul plaaseiendom, wat in baie gevalle vir generasies in dieselfde families was, verkoop. 'n Aantal welvarende grootboere verbou sedert die einde van die vorige eeu en tans appels en sagtevrugte in die Joubertina omgewing, hoofsaaklik deur ko-operasies.


Naaste Dorpe


Joubertina word omgrens deur die volgende dorpe: KrakeelrivierLouterwater, Misgund en Haarlem, Avontuur en Uniondale in die Weste en Twee Riviere, KareedouwHumansdorp en die stranddorp Jeffreysbaai in die Ooste.


Roete 62


Die naaste stede is George in die Weste en Port Elizabeth in die Ooste. Beide is ongeveer een en 'n halwe uur se reis per motor.


Die bekende R62 nasionale roete ("Route 62") loop deur Joubertina, wat heel gepas is vir toeriste op die R62 wynroete wat strek van Worcester deur Robertson, Montagu en Calitzdorp. Gastehuisverblyf met alle nodige geriewe is beskikbaar en is daar ook 'n karavaanpark buite die dorp.

Joubertina is bekend vir sy rustige atmosfeer en natuurskoon. Dit het veral sedert 2003 gewild geword onder stedelinge wat 'n rustiger heenkome soek. Eiendomme is steeds relatief goedkoop in vergelyking met die res van Suid-Afrika.


Distrik

Die distrik is 1 256 km² groot. Behalwe appels word pere, perkes, appelkose en youngbessies ook verbou. Die bekende Kougastreek en Baviaanskloof Wildernisgebied is net 'n klipgooi weg en kan maklik per motor bereik word.


^ Op Pad in Suid-AfrikaB.P.J. Erasmus. 1995. ISBN 1-86842-026-4

Kort beskrywing van die dorp Joubertina soos op webwerf:- http://af.wikipedia.org/wiki/Joubertina

Uitsig oor Joubertina.

'n Ou 1928 Wallis-trekker langs die R62 -pad buite Joubertina.

Die SAR NGG klass 13 is in 1928 in Duitsland vervaardig. Dit is in 1975 van diens onttrek en word in Joubertina uitgestal.

Die NG kerkgebou, vroeg wintersaand

Ou Appeltrein wa

Werkstuk oor Joubertina  deur Clarissa-Mari Rabie van NMMU (Port Elizabeth) (Kliek hier)

(Kliek hier vir nog inligting)