Langkloof

Joubertina Omtrent Ons Dit-en-dat Eetplek Besighede Natuur Geestelik

Pinkster

50 Dae na Paasfees

Pinkster is 'n Joodse fees wat 50 dae na die Pasga gevier word. Dit staan in die Bybel bekend as die "Fees van Weke" (Lev 23:15-21; Deut 16:9-10), 'n oesfees wat met groot vreugde en feesviering gevier is vir die oes wat ingesamel is. In die tyd van die Nuwe Testament is die fees ook verbind aan die gee van die Wet, die Tora, op Sinai. In Handelinge 2:1 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees tydens hierdie fees. Dit is die geboortedag van die Kerk van Christus, die dag dat die Here begin het om Sy oes in te samel. Op hierdie dag is die dissipels bemagtig om die evangelie van Jesus oor die hele wêreld uit te dra.

Die tyd tussen Paasfees en Pinkster is die belangrikste tyd in die kerkjaar, en neem dieselfde plek in, in die kerkjaar as wat Sondag in die week inneem.

Die kleur van Pinkster is vuurrooi wat die vuurtonge wat op die dissipels neergedaal het, simboliseer. Dit simboliseer ook die vuur wat in die harte van mense brand om die liefde van God in die wêreld sigbaar te maak.

In die NG Kerk word die viering van Pinksterfees voorafgegaan met 'n week van bidure. Dit het ontstaan in Mei 1861 in die Paarl na 'n besondere belewenis wat ds. G W A van der Lingen gehad het. (Sien onder)

Pinkster (in Wikipedia, die vrye ensiklopedie)

(Die Heilige Gees word oor die dissipels van Jesus van Nasaret uitgestort (Ingeborg-psalter, omstreeks 1200)

Pinkster (afgelei van die Griekse πεντηκοστή [μέρα], pentekostē [hēmera], 'die vyftigste dag') is 'n Christelike fees ter herinnering aan 'n belofte wat Jesus van Nasaret vir sy volgelinge gemaak het. Volgens die Christelike Pinkster-teologie sou hy vyftig dae ná sy opstanding 'n helper, die Heilige Gees, stuur om sy aanhangers, wat in Jerusalem vergader het om die Joodse Wekefees te vier (Die handelinge van die apostels (Handelinge 2:1-41), met nuwe krag te beklee. Pinkster word sedert die 3de eeu as 'n Christelike fees gevier (die eerste historiese verwysing na die fees dateer selfs terug na die jaar 130) en is gegrond op die Joodse tradisie van die Wekefees (Hebreeus: Sjavoeot), wat vyftig dae ná die Pasgafees (Hebreeus: Pessag) gevier is. In ooreenstemming hiermee val die Christelike Pinksterfees op die vyftigste dag ná Pase.

Gedurende die eerste Pinkster het die Heilige Gees oor Jesus se dissipels neergedaal. Die Heilige Gees het die vorm aangeneem van tonge van vuur, en 'n druisende wind, wat die huis gevul het waar hulle gesit het. Die dissipels het vervul geraak met die Heilige Gees en hulle het begin om in vreemde tale te praat wat hulle self nie geken of verstaan het nie. Sommige besoekers aan Jerusalem vanaf ander dele in die Romeinse Ryk het die tale verstaan, maar sommiges het  dit nie verstaan nie, en het gedink die dissipels was dronk of beset deur bose geeste.

Volgens die Boek van Handelinge, was die Pinkster ondervinding waargeneem deur 'n groot groep mense, en dit het verwarring en ekstase meegebring.

Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. Verras en verbaas sê hulle toe: "Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere - ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het." Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: "Wat kan dit tog beteken?" Maar party het gespot en gesê: "Hulle is dronk." Handelinge 2:6-13

Toe het Petrus met die groep mense gepraat, en verduidelik dat die vreemde verskynsels deur die profeet Joël voorspel was, en dat dit die profesie van Dawid bevestig het. Petrus het die luisteraars vermaan om na Christus te keer. Toe hy gevra word wat 'n mens moet doen, antwoord hy: "Bely, en word gedoop, elkeen van julle in die naam van Jesus Christus, vir die vergewing van julle sondes, en julle sal die geskenk van die Heilige Gees ontvang." Omtrent drie duisend het gehoor gegee aan Petrus se versoek en was gedoop.

Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: "Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Handelinge 2:14-21

Die eerste Pinksterfees word in die Christelike tradisie as die stigtingsdatum van die oorspronklike Ekklesia (Kerk) beskou.

Joodse oorsprong [wysig]

Die Christelike Pinkstergebeure het volgens die Nuwe Testament van die Bybel (Handelinge 2:1) tydens die Joodse fees Sjavoeot plaasgevind. Hierdie fees is ter herinnering aan die openbaring van die Torah aan die Joodse volk as een van die belangrikste feesdae van die Joodse godsdiens gevier. Sjavoeot beteken letterlik 'weke' en verwys na die sewe weke ná die Pessagfees, wat op die vyftigste dag voltooi is. Die Griekse benaming pentekostē, waaruit ook die Afrikaanse naam Pinkster ontstaan het, is reeds op hierdie tradisie gegrond. Sjavoeot was daarnaas ook 'n oesdankfees en het die einde van die koringoestyd gemarkeer wat met Pessag begin het.

Kategorie: Christelike herdenkings uit web bladsy http://af.wikipedia.org/wiki/Pinkster

________________________________________________________________________________________________________

Die volgende uit `n Tesis deur P B van der Watt genaamd ‘HERLEWING IN DIE NED. GEREF. KERK - 'N HISTORIESE BLIK

Besondere belewenis wat ds. G W A van der Lingen gehad het

3.4 Hierdie geestelike seëning sou egter nie altyd in hierdie gemeente uitbly nie. In Mei 1860 het daar besondere gebeure plaasgevind. Om die openbare gebed meer effektief te maak is daar in die gemeente verskeie bidgroepies georganiseer. By een van hierdie kleiner groepies het die gedagte ontstaan dat die onderskeie byeenkomste moes verenig vir ge-samentlike gebed gedurende die tien dae vanaf Hemelvaartdag tot Pinkstersondag — in navolging van die eerste Jerusalemse gemeente, wat gedurende hierdie Christelike feesdae biddend op die belofte van die Heilige Gees gewag het!

Die versoek het algehele byval gevind sodat die lidmate in groot getalle by die byeenkomste van 9 tot 19 Mei mekaar verdring het.

Namate Pinksterdag genader het, het daar by baie selfs die gevoel begin opiaai dat iets buitengewoons op die betrokke Sondag sou plaasvind — iets miskien soortgelyks aan die gebeure op die eerste Pinksterdag. Die bidure was intens beoefen en meer as een aand vol van emosie en aan-doening - die geroep om genade was ernstig en aanhoudend! Sondag 19 Mei 1861 is met 'n gebedsbyeenkoms begin. Later by die oggenddiens het ds. G W A van der Lingen ten aanhore van 'n groot skare die Woord op 'n besielende wyse bedien uit Luk. 24:49: "en ziet, Ik zende u de belofte des Vaders"; en met 'n smeekgebed om 'n vervulling van dié belofte is die diens beëindig.

Ná hierdie byeenkoms het ds. Van der Lingen alleen in die kerkge-bou agtergebly. In diepe erns het hy die aangesig van die Here gesoek totdat 'n bidstond, wat vir die middag bepaal was, 'n aanvang sou neem.

By hierdie geleentheid, terwyl hy voorgegaan het in gebed en besig was met belydenis van sonde, het hy in 'n soort verrukking van sinne geraak.

Die indrukke van hierdie gebeure was onvergeetlik. Dit was baie duidelik dat die Paarlse predikant in 'n geestesvervoering geraak het en watter verklaring ook al aan die ontstaan van die visioen gegee word, was dit vir Van der Lingen self niks anders as 'n openbaring van die Here nie. Voortaan was sy lewe gekenmerk deur 'n dieper godsdienstige toe-wyding. Ook die gemeente het geestelik gebaat: nooit was die opkomste na die eredienste talryker nie, godsdienstige gesprekke was aan die orde van die dag, huisgodsdiens het opgelewe, terwyl die persoonlike lewe die Christelike deugde vertoon het. Die gemeente het besluit om elke jaar hierdie biduur-gebruik te herhaal — en dit was nie lank nie of die ge-woonte het ook elders begin posvat en vandag word daar geen enkele gemeente van die Ned. Geref. Kerk gevind waar Pinksterbidure nie gehou word nie. In De Gereformeerde Kerkbode van 1867 is vir die eerste keer bepaalde onderwerpe as 'n handleiding vir die bidure gepubliseer - nog 'n gebruik wat sedertdien ook nagevolg word.

Met die Pinksterbidure is iets nuuts die kerklike lewe ingedra, maar tog nie iets vreemds nie. Dit het sy wortels in beide die Pinksterfees, by wyse van Skriftuurlike grond, én die herlewings in die middel van die negentiende eeu as geskiedkundige aanleiding.

Wat laasgenoemde betref, was 'n onmisbare element daarvan die noodsaaklikheid van die gebed en met name dan ook die openbare gebed. Dit is van belang om te meld dat die openbare biduur hoe langer hoe meer deel van die lewenspatroon van die Ned. Geref. Kerk geword het.

(Vir die volledige dokument waaruit die boonste kom Kliek hier)

* (Die volgende uit `n tesis oor persoonlike ervarings van UP wat verkry kan word by:

 http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-03042013-093216/unrestricted/02chapter2.pdf

2.1 Ds.G.W.A .van der Lingen(1804-1869)

Ds.Gottlieb Wilhelm Antony van der Lingen wat op 29 Mei 1804 gebore is, is as enigste kind reeds vroeg deur sy godvresende ouers aan die evangelie bediening opgedra.

2.2 Sy vroeë lewe en bekering

Hy studeer vanaf 1818 tot 1821 aan die Latynse skool in Utrecht waarna hy hom vanaf 1822 aan die Utrechtse Universiteit bevind Sy vader kom op vroeë leeftyd tot bekering en spreek op sy sterfbed die wens uit dat sy seun spoedig 'n hartgrondige bekering sou ondergaan" (Die Kerkbode 15 Mei 1946:600).

Na 'n driejarige universiteitstudie, waarin hy 'n graad behaal, studeer hy in die teologierigting. Aan die begin van hierdie kursus het sy vader se sterfbedbede in vervulling getree "toe die lig van die goddelike genade die hart van die soekende student tot die wedergeboorte gelei het” (:600). 'n Verskeidenheid faktore het daartoe aanleiding gegee. Die vrome voorbeeld en gebede van sy ouers, die dood van sy vader en die gedurige vermaning van 'n eenvoudige landman om tot `n vaste besluit te kom, was onder die middels wat deur God gebruik is om hom tol bekering te lei. Dit het aanvanklik nie so maklik gegaan nie, maar tee die lig uiteindelikdeurbreek, was die vrede en die vreugde so groot. Die oortuiging en krag van sy latere prediking was gedurig die bewys van hierdie groot ondervinding(:600).

2.2.2 Sy bediening

Hy word op 5 Junie 1831 in die Paarl bevestig. "Zijn preken waren lang, zijn stijl stroef, maar zijn voordracht was levendig en opgewekt. En zijn indrukwekkende persoonlikheid, godzalige wandel, en de ernst en de zalving, waarmede hij spak, stictten zijn hoorders, en wonnen de liefde der gemeente" (Dreyer 1924:82). Hy het bekendheid verwerf vir sy preke oor die profesieë en die "tekens van die tye" (:82). Te midde van goeie getuienis vanaf die gemeente, het hy dikwels teenstand ontvang as gevolgv van sy "ernstige bestraffing van de zonde" (:83). Hierdie diepe begeerte om `n balans te vind in godsvrug en regsinnigheid, het gedurig in sy bediening na vore getree Hy het dikwels sy klagte aan die Ring voorgehou van die "doodigheid en geestelooze gehechtheid aan vormen." Uitwendige godsdienstigheid is alte dikwels "een deksel voor eene beredeneerde wereldgezindheid" (Uit Ringsverslag van 1848 soos aangehaal deur Gerdener in Die Kerkbode 15 Mei 1946:602).

Hoewel hy belas was met die daarstelling van 'n kweekskool, wys hy die professoraat wat hom aangebied is, van die hand. Soos die ander predikante, het hy ook 'n behoefte gehad na herlewing in sy gemeente, Wat dan wel in 1860 plaasgevind het. "Ontroerende tonele en diep sondebesef het daardie herlewingstydperk ook in die Paarl-gemeente gekenmerk" (Die Kerkbode 15 Mei 1946:602). "Met liefde en wijzrheid socht hij in die tijd de zegen te verdiepen, die ook voor zijn eigen geestelik leven veel betekende" (Dreyer 1924:83).

Hy sterf aan beroerte op 1 November 1869 in die pastorie van die Paarl na 38 jaar in die bediening.


Ds G W A van der Lingen (1804 - 1869)

Hierdie blaai bevat inligting rakende die siklusse in die Christelike kerkjaar. Hierdie is spesifiek oor ‘Pinkster’

Inligting is plaaslik en uit die webblaaie van die NG Kerk Constantiapark en Linden verkry sowel as Wikipedia. Ons dank julle.